|
|
Dankie dat ons nog kan dankie
sê
Hannes en Theresia Marren van Welgegund skryf:
Na die mees vreesaanjaende ondervinding in my hele lewe op 22 Junie,
waarin ek in die loop van ’n vuurwapen en ’n wrede gesig moes vaskyk,
en daar op my geskiet, en ek gewond is en deur die genade van Bo die
huis kon bereik en waarna die aanvaller die vuurwapen op Theresia
gerig het en sy die deur in sy gesig toegeklap het, wil ons net die
volgende instellings en persone vir hul hulp en bystand bedank:
• Aan insp Gys Coetzee van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens, dankie
vir u flinke optrede. Nadat ek u gekontak het was die polisie gou op
die toneel so ook die helikopter. Hulle het vertroue ingeboesem met
hulle optrede. Vir almal wil ons net baie dankie sê.
• Aan die sekuriteitsmaatskappy Paracops, u reaksie was
onverbeterlik. U het die toegangshek met u duplikaatsleutel
oopgesluit en so aan ander toegang verleen. Op u kan beslis
staatgemaak word. Ook wat betref u nagpatrollies, en ook weer toe
die voordeur se veiligheidshek se slot vroeg Donderdag more 02:00
gebreek is. U was in bestek van minute na die alarm geaktiveer was
weer by ons. Dankie ook vir die toestemming wat verleen is dat
Lluwellyne Labuschagne by ons kon bly tot 05:30.
• Aan Lluwellyne, dankie dat jy aangebied het om ’n hele paar nagte
by ons aan huis oor te slaap, dit word besonder waardeer.
’n Hele aantal sekuriteitsmaatskappye het my in die verlede genader
om by hulle aan te sluit, maar na die week se bystand staan en val
ons by Paracops.
• Aan Necsa Ambulansdiens, baie dankie vir die vervoer na Brits
Medi-Kliniek, veral aan Joe van Staden met die stabilisering van die
wond en die kalme en vriendelike optrede tydens die rit in die
ambulans.
• Aan ons bure Tony en Rhona Taylor. Tony wat agter die ambulans
aangery het en ons by die hospitaal bygestaan het en terug huistoe
gebring het. Aan Roy Jacobson wat ’n oog oor alles by die huis gehou
het tot met ons terugkoms, baie dankie vir sulke staatmaker bure.
• Aan al die ander bure en vriende in die omgewing, dankie vir die
besoeke en bemoedigende boodskappe. Dankie aan Albert Rhörbeck vir
die herstel van die veiligheidshek.
• Dankie aan dss Anton van Zyl en Werner Venter vir julle besoeke op
die dag van die gebeurtenis en aan ds Venter vir die opvolgbesoeke.
Julle bemoedigende boodskappe was soos water vir ’n verlepte plant -
dit rig jou weer op en gee nuwe krag.
• Aan ons Hemelse Vader: ‘Onse Here, onse Redder so groot en magtig.
U oorskou ons lewenspad. Dankie dat u ons lewens gespaar het. Vas
kan ons op U vertrou, ja ons kan getuig, vas kan ons op U vertrou.
Back to
Top
Back to Home |
9 July 2009 |