Hartbeespoort's First Online Newspaper
Home This Weeks News Editorial Letters Contacts

Die twee vriendinne, Frances Gouws (36) en Tillie du Plessis(48), wat in die vroeë ure van Sondagoggend saam in ’n ongeluk oorlede is.
Hulle was deel van die drie musketiers saam met nog ’n vriendin, Melinda Liefbroer.

Twee vriendinne sterf saam

Twee van die drie musketiers van Hartbeespoort het vroeg Sondagoggend saam in ’n motorongeluk gesterf. Frances Gouws (36), ma van twee en vrou van kapt Piet Gouws - bevelvoerder van die Hartbeespoort Misdaadvoor-komingseenheid, en Tillie du Plessis (48) ’n jarelange inwoner en ook ma van twee, was op pad huis toe net voor 01:00 Sondagoggend toe hulle Toyota Tazz en ’n Toyota Quantum bussie kop-aan-kop op die R511 in Melodie gebots het.
Frances en Tillie het die liefdadigheids-konsert ten bate van die gesin van Ockert van Schalkwyk, wat vroeër verlede maand na ’n ongeluk oorlede is, bygewoon saam met die derde lid van die drie musketiers, Melinda Liefbroer en was op pad huis toe, toe die ongeluk plaasgevind het. Melinda het reeds vroeër die aand huis toe gegaan. Beide vroue is op slag dood terwyl die bestuurder van die Quantum bussie na die Brits Distriks-hospitaal geneem is. Hy staar klagtes van dronkbestuur en strafbare manslag in die gesig.
Slegs ’n halfuur na dié ongeluk is ’n sangeres van Hart-beespoort en enkel-ma van drie, Lee Clifford (34), wat ook die konsert bygewoon het, en nog drie ander mense beseer in ’n ongeluk wat skaars twee kilometer verder op dieselfde pad plaas-gevind het. ’n Toyota Hilux en Toyota Yaris het in dié ongeluk ook kop-aan-kop gebots. Lee is in ’n kritieke toestand in Brits Medi-Kliniek nadat haar milt verwyder is. Sy moes ’n totale bloedoortapping ondergaan en moes reeds ’n tweede operasie ondergaan maar kon nie omdat haar toestand te onstabiel is. Lee het ook ’n gebreekte arm, ontwrigte skouer en snye op haar kop en maag maar veg ’n moedige stryd. Die man saam met wie Lee in die bakkie gery het, mnr Danie Smit, is met ’n gebreekte arm na Brits Medi-Kliniek geneem terwyl een van sy seuns, Neil Smit, met kopbese-rings in dieselfde hospitaal opgeneem is. Die bestuurder van die Yaris, mnr Gerrit Jordaan, is met brein beserings na Muelmed Hospi-taal in Pretoria geneem. Volgens inligting is hy later Sondag in dié hospi-taal oorlede.
Kapt Piet Gouws, Frances se man, het aan Kormorant gesê dat Frances ’n passie vir haar medemens gehad het en ander altyd voor haarself gestel het. “Sy sou eerder duur goed vir ons koop voor sy iets vir haarself koop. Frances was ’n opregte vriendin vir haar vriendinne en sy was die beste braaier in die land,” het Piet gesê.
Sally Kruger, ’n vriendin en kollega by Santam waar Francis die laaste jaar gewerk het, het gesê dat Frances altyd bereid was om te help en haar alles in haar werk, haar vriendskappe en haar gesin ingesit het. “Sy het ’n groot impak op al haar kollegas se lewens gemaak,” het Kruger gesê.
Mnr Romano van der Spuy, sektor een misdaadforum-voorsitter, het gesê dat Piet ’n kollega, vriend en waarde-volle lid van die misdaadforum is en het sy innige simpa-tie aan Piet en sy gesin oorgedra. “Ons bid vir hulle in hier-die moeilike tyd,” het Van der Spuy gesê.
Frances laat Piet, haar kinders Monique (14) en Devon (12) en haar ma, Moira Jansen, agter.
Tillie du Plessis was ’n jarelange vriendin van Frances en bekend in die gemeenskap vir alles waarby sy betrokke was. Haar man Gerhard het aan Kormorant gesê dat sy ’n fantastiese ma en mens was. Tillie laat Gerhard, en hul twee seuns Jean-Pierre (23) en Claude (12) agter.
Frances se begrafnis vind vanoggend 10:00 vanuit die NG Kerk in Maraisstraat, Schoemansville plaas terwyl ’n roudiens vir Tillie Vrydagoggend om 11:00 in dieselfde kerk gehou word.
Intussen is ’n trust-fonds vir Lee gestig om te help met die versorging van haar twee dogters en seun omdat sang haar enigste inkomste is. Die mediese kostes styg ook by die dag wat moontlik nie alles deur haar mediese fonds gedek sal word nie. Mense wat tot die fonds wil bydra kan dit doen in die ABSA Brits-rekening 4055073365. Navrae kan aan James by 082 607 2025 gerig word.

Back to Top                                                               Back to Home

3 February 2010