|

Erik en Elly Holm in hulle goue jare

Elly Holm tussen van haar werke op
tagtigjarige leeftyd

Elly Holm kies die erf in Karelstraat in 1947
waar Erik later eiehandig hulle huis sou bou. Hy het later nog vier
huise ontwerp en gebou. |
Ou families: Die Holms
Renaissance-vlam bly brand
Leonardo da Vinci was die argetipe Renaissance
mens - ingenieur, bioloog, skilder, beeldhouer en musikant. Dit lyk
byna onmoontlik dat een mens soveel uiteenlopende talente kon hê,
maar tog bestaan daar vandag nog lewende bewyse van mense met ook so
‘n veelheid van talente. In Hartbeespoort is die Holm-familie ‘n
sprekende voorbeeld daarvan.
Elly Holm was die doyenne van beeldende kunste in Hartbeespoort
vandat sy in 1946 hier aangeland het uit ‘n oorlog-verwoeste Europa.
Haar man, Erik, met doktorsgrade in klassieke argeologie en
kunsgeskiedenis, was ‘n gevangene in die Baviaanspoortgevangenis en
sy het al haar talente ingespan om die pot aan die kook te hou vir
haar, haar ma en haar ses kinders in die huis wat Johan Schoeman in
Meerhof aan hulle beskikbaar gestel het. Die lewe het wye draaie met
hulle geloop voordat haar man in 1949 kwytskelding gekry het van die
vonnis wat hom opgelê is omdat hy gedurende die oorlog in die Duitse
uitsaaidiens gewerk het.
Om die sameloop van die omstandighede wat soveel talent hier aan die
suidpunt van Afrika geplant het te konstrueer, moet ‘n mens
teruggaan na die 1740s en drie Holms van Swede - ‘n pa en twee seuns
- wat volgens oorlewering bemanningslede was op ‘n walvisjagter wat
aan die Oos-Kaapse kus in ‘n storm vergaan het. Die geskiedenis is
nie baie duidelik hieroor nie, maar dit wil voorkom of die pa
verdrink het en die een seun Amerika toe is. Die seun wat in
Suid-Afrika agtergebly se nakomelinge het uiteindelik by die
Oranjerivier naby Bethulie beland. Een van hulle, Gustav Adolf, is
getroud met ‘n Duitse weeskind, Hulda Grunau wat saam met die Duitse
setlaars in die vroeë 19de eeu na Suid-Afrika gekom het.
Volgens Albrecht Holm, wat die familiegeskiedenis nagegaan het, was
hy glo ‘n baie sterk man en het hy ‘n pont oor die Oranjeriver
bedryf. Sy broer, Henry, was Louw Weppener se adjudant in wie se
arms hy by Thaba Bosigo gesterf het. Die Vrystaters het egter sy
naam verkeerdelik Helm gespel.
Gustav, wat dood is aan malaria wat hy opgedoen het toe hy die
Transvalers in die oorlog teen Sekoekoenie gaan help het, se seun,
Sidney (Albrecht se oupa), was ‘n besonder skrander jong man en
hoewel hy nie baie jare op die skoolbanke deurgebring het nie, was
hy op ‘n vroeë ouderdom al die posmeester op verskeie Vrystaatse
dorpe. Dit het meegebring dat toe die Anglo Boer-oorlog uitbreek, hy
in diens van die Vrystaatse regering was en anders as sy familie
oorkant die rivier, wat tegnies Britse onderdane was, aan die oorlog
kon deelneem. Weens sy kennis van Morsekode het hy as telegrafis
diens gedoen en is later bevorder tot offisier. Hy is uiteindelik
gevang en as krygsgevangene na Ceylon gestuur.
Terug na Duitsland
Sidney skryf in sy ongepubliseerde memoirs dat sy moeder na die
oorlog graag weer haar geboorteland wou besoek en hy is toe saam.
Een aand was hulle by ‘n musiekuitvoering in Leipzig waar die meisie
langs hom sy aandag getrek het. Sy moeder, wat haar die dag
vantevore ontmoet het, het hulle aan mekaar voorgestel. Die mooie
Else Rosenthal, die dogter van ‘n vrou uit die Duitse adel wat met
‘n Joodse onderwyser getroud was, het net daar sy hart gesteel. Van
‘n hofmakery was daar egter nie veel sprake nie want hy kon net
Afrikaans en Engels praat en sy net Duits en Frans. Op sy aandrang
is hy en sy moeder toe na Heidelberg waar hy hom in sy kamer
toegesluit het met ‘n woordeboek en koerante en Duits geleer het.
Hulle is toe terug na Leipzig waar hy drie dae gehad het om haar
hart te wen en haar ouers in gebroke Duits om haar hand te vra. ‘n
Jaar later het sy by hom aangesluit nadat hy vir haar ‘n huis gebou
het op die deel van die plaas wat sy moeder na die oorlog aan hom
gegee het.
Sidney Holm was ‘n flukse boer en ambagsman maar het na vele
terugslae bankrot gespeel en het uiteindelik uit desperaatheid op
die delwerye by Lichtenburg beland. Hy het egter met sy laaste 100
pond Else en die twee oudste seuns, Johan en Erik (gedoop Sidney
Erich), Duitsland toe gestuur waar haar broer, Wolgang Rosenthal, ‘n
bekende sjirurg en sanger was. Toestande in Duitsland was ook nog
haglik in die vroeë twintigs na die Eerste Wêreldoorlog en na nege
maande is Johan saam met sy ma terug Suid-Afrika toe. Erik was egter
in sy element. Hy het binne ‘n paar weke Duits vlot leer praat (hulle
het tot op daardie stadium net Afrikaans gepraat). Hy het hom
verdiep in sy studies en ‘n doktorsgraad in argeologie en later ook
in kunsgeskiedenis behaal.
Op kunsskool het hy Elly Pabst ontmoet. Sy was die dogter van ‘n
Pruisiese offisier wat ‘n ongelooflike talent vir musiek gehad het
en sonder enige opleiding verskeie instrumente bespeel het. Hy het
daarop aangedring dat sy kinders musieklesse neem, maar Elly se
talente was meer in die beeldende kunste. Hy is vroeg dood weens sy
ontberings in die Eerste Wêreldoorlog, maar ook sy musiektalent vind
weerklank in sy nageslag.
In die vroeë dertigerjare is Erik terug na Suid-Afrika waar hy sy pa
op die delwerye gaan opsoek het. Al werk wat hy kon kry, ongeag sy
doktorsgrade, was as laerskoolonderwyser in Pietermaritzbug.
Aangesien hy nou darem ‘n inkomste gehad het, het hy Elly laat kom
en hulle is getroud. Hier is hulle oudste seun, Dieter, gebore.
Later het hy ‘n beter pos by ‘n Indiëronderwyskollege in Durban
gekry waar Albrecht in 1937 gebore is.
Oorlogsjare in Europa
Terwyl hy in Durban was het van sy Duitse vriende hom laat weet van
‘n vakature in die Duitse radiodiens vir ‘n omroeper wat Afrikaans
en Duits magtig was. Dit was ‘n aanbod wat hy nie kon weier nie. In
1939 is hy met sy gesin dus terug Duitsland toe waar hy gou bevorder
is en hoof van die Afrikaanse afdeling was toe die oorlog uitgebreek
het. Suid-Afrika was toe nog neutraal en die destydse minister van
buitelandse sake, dr Donges, het hom gerusgestel toe hy navraag
gedoen het en gesê dat hy maar in sy pos kon aanbly.
Albrecht onthou die oorlog goed en sê dit was vir hulle as kinders
nogal ‘n avontuur. Later, toe die geallieerde bomaanvalle op die
stede te erg geword het, is hulle na ‘n klein dorpie op die
Oos-Duitse platteland wat teen einde van die oorlog eers deur die
Amerikaanse en later deur die Russiese magte beset is. Wat hy goed
kan onthou is hoe die Amerikaanse tenks moedswillig deur die nou
straatjies van die Middeleeuse dorpie gejaag het en alles platgetrap
het. Die Russe weer was uiters primitief en wreed en sou mense
doodmaak vir ‘n horlosie wat vir hulle ‘n vreemde toestel was. Baie
het met ‘n hele arm vol horlosies geloop terwyl een selfs ‘n wekker
om sy nek gedra het.
Intussen het Erik by die radio-ateljee gebly tot die laaste. Toe
Duitsland oorgee, is hy Italië toe en later terug na Duitsland waar
die Amerikaners op soek was na burgerlikes wat Duits kon praat om
die skole en fabrieke weer aan die gang te kry. Omdat hy ‘n Suid-Afrikaner
was het die Amerikaners hom in diens geneem totdat die Engelse begin
aandring het op sy uitlewering. Die Amerikaners voer toe aan dat hy
‘n spioen is wat deur die Engelse gestuur is, weier om hom uit te
lewer en ondervra hom intensief, soms taamlik hardhandig.
Uiteindelik is hulle oortuig dat hy nie ‘n spioen is nie maar lewer
hom ook nie uit nie. Erik se Engelse eweknie in die Duitse
radiodiens, William Joyce, wat bekend gestaan het as Lord Haw Haw,
is wel uitgelewer en deur die Engelse verhoor en tereg gestel.
Na ‘n groot gesukkel kon die Amerikaners sy gesin uiteindelik uit
die Russiese gebied kry en word hulle toe almal in Beiere gevestig.
Sowat ‘n jaar na die vredesluiting is Erik wel aan die Britte
uitgelewer en na Suid-Afrika gestuur vir verhoor. Hier is sy
verdediging waargeneem deur adv Oswald Pirow, wat voor die oorlog
minister van verdediging in die Hertzog kabinet was en later
aangekla het in die Mandela-hoogverraadverhoor in 1956. Pirow het
daarin geslaag om die doodstraf af te weer maar hy en die ander Suid-Afrikaners
wat in sy afdeling gewerk het is uiteindelik skuldig bevind en hy is
tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Pirow kon daarin slaag om Elly op
staatskoste uit Duitsland te bring as ‘n getuie, maar die regering
het geweier om vir Ouma Pabst en die kinders se vervoer te betaal.
Die Ossewa Brandwag het toe geld ingesamel vir hulle terugkeer en
uiteindelik het hulle in Desember 1946, na ‘n uitputtende weeklange
vlug deur Afrika op die Palmietfontein-lughawe naby Germiston geland
waar ‘n skare mense hulle verwelkom het
Verblyf in Meerhof en daarna
Albrecht vertel dat nog ‘n gedoente was toe hulle op die lughawe
aangekom het. Afgesien van die mense wat hulle verwelkom het, was
die koerante daar met flitsende kamera’s.
Hy sê hy het blou kringe onder sy oë gehad en die koerant se
kunstenaars het ‘n bril op die foto ingeteken sodat hy darem nie so
sleg moes lyk nie.
Die Schoemans het hulle op die lughawe kom haal. Tolstoi en Lincoln
was daar met wat vir die Holm-kinders na twee geweldige groot motors
gelyk het - Albrecht onthou nog die een was ‘n Buick. Die
Schoeman-seuns was baie vriendelik maar kon nie ‘n woord Duits praat
nie en die Holm-kinders - Dieter, Albrecht, Konstanze, Maja,
Cornelia en die baba Erik - nie ‘n woord Afrikaans nie. Die pad oor
Saartjiesnek was toe nog ‘n grondpad en het net tot by Meerhof
gegaan. Daar het Johan Schoeman vir hulle die ou Meerhof-kafee as ‘n
woonhuis ingerig. Albrecht sê hulle het kiste en kiste perskes en
ander vars vrugte gekry en geëet tot hulle amper siek was.
Toe die skole aan die begin van 1947 heropen het moes hulle skooltoe
- die enigste een in die omgewing was Kameelfontein waarheen hulle
met ‘n militêre vragmotor wat omskep is in ‘n skoolbus geneem is.
Hulle moes ook baie gou leer Afrikaans praat. Die spoorwegkinders by
wie hulle elke oggend verby moes stap op pad na die bushalte was nie
baie lief vir die “Duitsers” nie en hulle het maar koes-koes geloop.
Op Kersdag 1948 het die Malan-regering Erik Holm vrygelaat en is die
Holms as ‘n gesin herenig. Hulle het erf no 102 in Karelstraat in
Schoemansville bekom en daar het Erik eiehandig in 1950 hulle eerste
huis gebou. Intussen is die sewende kind en vierde seun, Tielman,
gebore.
Die huis in Karelstraat het uiteindelik ‘n vaste basis gebied waar
die talente in die gene wat uit verskillende geslagte versamel is,
kon ontwikkel en gedy. Elly het haar met oorgawe verdiep in die
kunste en toegesien dat haar kinders se vermoëns op die gebied van
kuns en musiek ten volle ontwikkel word. Talle van die kunsgenrés
wat sy beoefen het was nuut in Suid-Afrika, soos enkoustiek, waarin
met byewas geskilder word, en sgraffito, ‘n amper drie-dimensionele
vorm van skilder. Sy was seker Suid-Afrika se veelsydigste
kunstenares en daarby uiters produktief. Sy is betower deur leiklip
wat so vrylik beskikbaar was en haar leiklipkuns, sgraffitos,
kleurglas, sketse, skilderye, keramiek, bronsbeelde en houtsneewerk
is te sien in menige huis en openbare gebou in Hartbeespoort,
Suid-Afrika, Europa, Engeland, die VSA en elders in die wêreld.
‘n Lewe van toewyding
Oor sy pa skryf Albrecht Holm in die Hartbeespoort
Omgewingserfenisvereniging se opname van gedenkwaardighede, dat
nadat hy hom in Meerhof gevestig het, hy vir eers bote gebou en
meubels gemaak het om 'n bestaan te maak. “Sy eerste aanstelling was
as onderwyser aan die Kameeldrift laerskool en daarna aan die
Hoërskool Brits. Weer het hy uitgeblink as inspirerende pedagoog met
'n veel wyer belangstelling as die verpligte leerplan.
“Hy het ook toneelstukke geskryf en met sy leerlinge opgevoer. In
die tyd het hy hom ook al meer in die navorsing van die
prehistoriese rotskuns van suider Afrika verdiep en was die eerste
persoon wat 'n verband tussen die rotskuns en die Boesmanlegendes en
mitologie ontdek het. 'n Spesiale navorsingsprojek vir die Raad op
Geesteswetenskaplike Navorsing, waarin hy 'n omvattende bibliografie
oor al die publikasies in verband met suider Afrika se
kultuurgeskiedenis moes saamstel, het sy verbeelding so aangegryp
dat hy gelyktydig verskeie publikasies in Afrkaans, Engels en Duits
in verband met sy navorsing oor die rotskuns asook Europese en
antieke Griekse kuns laat verskyn het.”
Die leergierigheid en werkywer wat Erik en Elly by hulle ouers geërf
het, het hulle ook aan hulle kinders oorgedra. Die kinders het op
skool fluks gevorder en met hulle aanvanklike Europese skoling het
hulle reeds ‘n voorsprong gehad. Dieter en Albrecht was die eerste
wat matriek geslaag het en is saam-saam universiteit toe. Albrecht
wou musiek studeer, maar sy ouers was ten gunste van iets meer
prakties. Hulle het dus besluit om argitektuur te studeer. Albei het
as argitekte gekwalifiseer en het saam saam ‘n praktyk bedryf.
Albrecht het nog steeds sy liefde vir musiek uitgeleef terwyl Dieter
meer akademies georiënteerd was en uiteindelik ‘n professoraat aan
die Universiteit van Pretoria beklee het. Albei het hulle huise, op
die kruin weerkante van Saartjiesnek, so ontwerp dat dit heeltemal
self-onderhoudend is ten opsigte van elektrisiteit, water en
riolering.
Erik (jr) was professor in entimologie aan aan die Universiteit van
Pretoria, maar is ook ‘n kunstenaar en musikant. Ook was hy ‘n
grofsmid wat ossewaens en perdekarre gerestoureer het en die Ring
Ossewaherberg eiehandig gebou het. Maja (Beyers) se juweelontwerpe
is wyd bekend terwyl Cornelia roem verwerf het as kunskilder en
Konstanze het in pottebakkery uitgeblink het.
Erik (snr) is in 1996 oorlede en Elly in 2000, albei toevallig in
die ouderdom van 89 jaar. Maar hulle gene is ook in die volgende
geslag merkbaar. Dié blink uit op terreine wat wissel van toneel en
teater, kuns, wetenskap en medisyne. Van die 27 kleinkinders is vier
medici, twee beroepsmusikante, twee argitekte (en een argitekstudent),
drie goudsmede, een ‘n veearts, een ‘n ingenieurstudent en ‘n ander
wiskundige terwyl nog een ‘n vioolmaker van beroep is.
Hierdie geslag is letterlik oor die wêreld versprei - Imme is ‘n
musikus in Duitsland, Stefan ‘n narkotiseur in Kanada, Dirk ‘n
mediese dokter in Duitsland en Meta ‘n industriële ontwerper in Nieu
Seeland terwyl Regine ook in Duitsland is. Van dié wat nog in die
omgewing is, hou Henning, ‘n argitek nes sy pa, hom voltyds besig
met die ontwikkeling van alternatiewe energiebronne.
Een van die akteurs, Erik se jongste seun Erik, het na ‘n belowende
debuut sy nek in 2007 in ‘n duikongeluk gebreek maar gaan met
kernmerkende vasberadenheid in sy rolstoel voort om sy beroep te
beoefen. Nog ‘n nefie, Bernard, Tielman se seun, wat besig is met
praktiese werk in sy ingeneurstudie is onlangs byna noodlottig
beseer toe hy vyf verdiepings ver in ‘n ventalisieskag geval het.
Hoewel sy beserings baie ernstig is, sê sy oom daar is hoop dat hy
weer volkome sal herstel omdat hy fiks en positief is.
Geslagte kom en gaan deur oorloë, droogtes en depressie, maar
uiteindelik is dit ywer, deursettingsvermoë en arbeidstrots wat
dinastieë bou. Dit is wat die vlam van die Renaissance brandend hou.
Dit is wat Erik en Elly Holm hier aan die oewers van die
Hartbeespoortdam aan hulle nakomelinge gelaat het. En dit is van
hier waar dit weer oor die wêreld heen versprei.
As dit was wat die Afrika Renaissance omarm het, sou hierdie land
tot ongekende hoogtes kon uitstyg.
Back to Top
Back to Home |
3 February 2010 |