Hartbeespoort's First Online Newspaper
Home This Weeks News Editorial Letters Contacts

Natie Swart, wat gedroom het hom ‘n węreldrekord op te stel deur saam met veertig van die land se giftigste slange te bly, het die hok op 22 Januarie etlike dae voor die rekordaanslag voltooi sou word verlaat. ‘n Pofadder het hom drie keer gebyt en hy moes die hok vir behandeling verlaat en het besluit om nie weer terug te klim nie.

Natie los rekordpoging na derde slangbyt

‘n Derde slangbyt binne 130 dae sedert “Nutty” Natie Swart die eerste keer by Chameleon Village in die slanghok ge-klim het, het ‘n einde aan dié slangman van Hartbeespoort se droom gebring om ‘n węreldrekord op te stel.
Natie, wat op 15 Augustus verlede jaar vir die eerste keer in die hok met veertig van die land se giftigste slange geklim het se droom was die eerste keer aan skerwe toe hy op 21 September gebyt en 27 dae in die hospitaal moes deurbring.
Hy het hom nie deur dié pofadderbyt laat afskrik nie en hoewel hy amper sy toon in die proses verloor het, tog besluit om terug te klim. Natie het op daardie stadium gesę dat hy baie graag soveel as moontlik geld vir die liefdadigheidsorganisasies wat na aan sy hart gelę het, wou insamel en dat dit sy grootste motivering was om terug te klim en die rekordaanslag opnuut te begin.
Natie wou ook met sy poging aan die węreld wys dat slange nie sommer uit die bloute sal aanval nie maar net sal reageer as hulle bedreig word. Sy eerste byt het juis gevolg na hy ‘n swartmamba wou skuif en in die proses te na aan ‘n pofadder beweeg het wat in teenreaksie hom aan sy toon gebyt het.
Op 23 Oktober verlede jaar het Natie met manne-moed weer in die hok teruggeklim om die rekord van voor af aan te durf. Hy het die voorneme gehad om lig te loop en uiters versigtig te wees maar het op 27 Desember per onge-luk op ‘n wipneus kobra getrap en is gebyt. Hy is dié keer in die hok behandel en het sy projek voortgesit. Natie het op 14 Januarie sy 35-ste verjaarsdag in die hok gevier en die dae begin aftel voor hy weer vryheid sou kon smaak. Dinge het egter opVrydag 22 Januarie finaal skeefgeloop toe hy op sy bed gaan lę en nie die pofadder by sy kopkussing gesien het nie. Die slang het gebyt, gebyt en weer gebyt.
Natie vertel dat hy dadelik alarm gemaak het waarna hy eers op die toneel behandel en toe na die hospitaal vervoer is. Die slang het Natie net bokant sy pols bygekom. Die wonde lyk volgens Natie nie so sleg as die eerste bytplek nie en sy arm sal na verwagting binne twee tot drie weke verbetering begin toon.
“Ek het my deel gedoen. Ons lewe. Slange is meer aktief in die somer en die foute was van my kant,” het Natie vanuit die Limpopo provinsie gesę, waar hy en sy vrou, wat deur die loop van die projek een van sy grootste steunpilare was, ‘n welverdiende ruskans geniet. Die egpaar gaan hulle in Hartbeespoort vestig waar Natie sy beroep as elektrisiën wil voortsit.
* Natie het ongeveer R30 000 vir die Unesibidzi Tortoise Sanctuary, New Beginnings House Horizon en Save a Child organisasies ingesamel. Die donasiebokse by die reptielpark waar hy gesit het sal tot 21 Februarie beskikbaar wees vir enigeen wat nog tot die insameling wil bydra.

Back to Top                                                               Back to Home

3 February 2010