|
|
Hartbeespoort een van 10 topskole
Hoërskool Hartbeespoort is vyfde op Beeld se lys
van top skole in Noordwes. Dié lys is Vrydag gepubliseer as deel van
’n lys van die Top 10 skole in vier provinsies, wat Noordwes,
Limpopo, Mpumalanga en Gauteng insluit.
Die term ‘top’ is egter relatief want vir sommige mense is dit bloot
akademiese prestasie, vir ander ’n balans tussen akademie, kultuur
en sport en vir nog ’n ander groep is dit enige skool wat dit regkry
om die volle potensiaal van ’n leerling te ontwikkel. Provinsiale
onderwysdepartemente het uiteenlopende kriteria gebruik om die top
skole te bepaal wat gewissel het van ’n 100 persent slaagsyfer tot
’n wiskundige som van die aantal kandidate wat geslaag het, dié wat
met vrystelling geslaag het en die aantal onderskeidings wat behaal
is.
Vir Beeld se Top 10 lys in die vier provinsies het Beeld sy eie
kriteria in oorleg met onderwyskenners gebruik om die Top 10
openbare skole in die vier provinsies te bepaal. Hulle het
statistiese gegewens gebruik oor die aantal leerlinge in ’n skool,
hoeveel matriek geskryf en geslaag het, die aantal kandidate wat met
vrystelling geslaag het en dié wat wiskunde en fisiese wetenskap met
meer as 40 persent geslaag het. Dié inligting is van die Departement
van Basiese Onderwys bekom. Skole met meer as 50 matriekkandidate in
2009 en ’n slaagsyfer van 98 persent en hoër is vir die lys in
aanmerking geneem. Die rede daarvoor was dat min skole in provinsies
soos Mpumalanga en Limpopo ’n 100 persent slaagsyfer behaal het om
’n ontleding sinvol te maak.
Daar is ook deur ’n kundige van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie
(SAOU) aanbeveel dat ’n 100 persent slaagsyfer nie as maatstaf
gebruik moet word nie omdat talle leerlinge in tegniese skole weens
die moeilikheidsgraad van wiskunde en fisiese wetenskappe nie
geslaag het nie.
Daar is ook ’n sagter dimensie waarna ouers kan kyk wat insluit die
prioriteit wat verleen word aan die gehalte van die breë
leerervaring vir leerlinge in ’n skool, die mate waartoe ’n
gebalanseerde lewe voorop gestel word in die etos, leuse en
bedrywighede van ’n skool, die balans tussen akademie, sport en
kultuur, klasgroottes, verskeidenheid ten opsigte van vakkeuse en ’n
lae personeelomset. Ouers kan ook vrae stel soos of onderwys ’n
roeping is vir die onderwysers om kinders te vorm om belangrike
bydraes tot die land en werkplek te lewer, hulle meesters van hul
vakgebied is, watter bydrae die skool lewer in die breër gemeenskap
waarin hy is en of die bestuurstrukture toeganklik is vir ouers en
leerlinge?
Mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van
Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dat ’n goeie
skool een is waar die kind in totaal (akademies, sport en kultuur)
ontwikkel word. Volgens hom het skole wat goeie uitslae behaal een
gemeenskaplike kenmerk en dit is goeie beheer, bestuur en leierskap.
Die top 10 skole in Noordwes volgens die lys was:
1. Wesvalia
2. Pothefstroom Girls High
3. Gimnasium
4. Lichtenburg
5. Hartbeespoort
6. Bergsig
7. Klerksdorp
8. Ferdinand Postma
9. Rustenburg
10. Vryburg.
Mnr Herman le Roux, hoof van Hoërskool Hartbeespoort, het in reaksie
aan Kormorant gesê dat die skool dankbaar en trots is vir die
prestasies wat behaal is. “Volgens my is die onderskeie prestasies
wat soos dié wat op meer navorsing gegrond is die enigste metode om
tussen skole te onderskei,” het Le Roux gesê.
Back to Top
Back to Home |
3 February 2010 |