Links: “Dis ek en my motor en ek ‘dump’ nie soos op facebook beweer word nie,” het Hanti de Jager van Rietfontein Vrydag gesê na inwoners haar van onwettige storting op die gemeenskaps-webblad beskuldig het.
Oppas wat jy op facebook sê, dit kan ernsitge gevolge dra.
‘n Inwoner het verlede week ‘n foto van ‘n mede-inwoner se motor, met registrasienommer duidelik sigbaar, op ‘n gemeenskapsblad gelaai en beweer dat die vrou rommel stort in Ifafi.
Die gevolg was ‘n groot aantal snedige en onaangename kommentaar van verskeie inwoners in die gebied. Selfs ‘n voorstel dat Kormorant die foto publiseer is op die blad gemaak.
G’n wonder dus dat ‘n ontstelde Hanti de Jager Vrydag Kormorant gekontak het nie. Haar kinders het die vorige middag met ‘n uitdruk van die facebook-blad en die kommentaar by die huis gekom.
“Kyk wat sê die mense, het my kinders ontsteld gesê,” vertel Hantie.
“Ons gebruik nie facebook nie, maar hul maats en ouers het dit wel raakgesien.”
Hantie het ook nie ge-“dump” soos op die webblad beweer is nie, die gesin woon op die Rietfontein plotte en soos vele ander plotbewoners word hul vullis op vullisverwyderingsdae by sekere punte afgelaai om deur die Madibeng munisipaliteit verwyder te word.
“Ons raak op die regte manier van ons vullis ontslae en laai dit nie langs die pad af soos diegene waaroor Kormorant verlede week berig het nie,” sê Hantie.
Inwoners het al voorheen Kormorant gekontak met foto’s en klagtes dat mense hul vullis in Melodie en Ifafi langs die pad stort. Ons het met dié geleenthede reeds vasgestel dat plotbewoners op spesifieke dae hul vullis by sekere punte aflaai wanneer die munisipalteit vullis in die betrokke gebied verwyder
Volgens ‘n prokureur waarmee Kormorant gesels het moet facebook gebruikers maar versigtig wees wat hulle op die web kwytraak. “Gevalle soos dié kan aanleiding gee tot sake van crimen injuria en laster. Die ‘slagoffer’ kan selfs ‘n hofbevel kry indien die aktiwiteite nie gestaak word nie,” het hy gesê.




Recent Comments