Links: Al die dreine in Sonop loop weer oor.
Die riool spoel al weer Sonop se strate in. Slegs ‘n maand na die departement van openbare werke ‘n groot rioolstorting hier aangespreek het, loop dreine in Akasiastraat weer oor.
In Mei het die riool in riviere in die strate afgespoel en ‘n tweejarige seuntjie moes mediese behandeling ontvang na hy in ‘n poel riool geval het.
“Die hoof rioollyn in Sonop het gesak en is verstop, wat veroorsaak dat die huishoudelike dreine oorloop. Die hele pyplyn sal vervang moet word,” sê Elsa Louwrens, proporsionele raadslid van die Madibeng munisipaliteit.
Inwoners is genoodsaak om slote vanaf die huishoudelike drein na die straat te grawe om te voorkom dat die riool in die erf opdam en selfs in die huise invloei.
Inwoners sê kinders en diere het begin siek word.
Die Sonop-gebied word deur die department van openbare werke bestuur wat verantwoordelik is vir die riool, krag en water.
“Dit is nou al vier maande dat ons met dié rioolprobleem sit. Ons het verlede week die departement se kantoor in Brits elke dag gebel oor die situasie, maar niks word gedoen nie,” het ‘n inwoner gesê.
Toe Kormorant die betrokke amptenaar van die departement kontak, het hy gesê hy was nie bewus van die situasie nie.
Die amptenaar, Herman Mafotsa, het onderneem om onmiddellik te gaan ondersoek instel en sou aan die Kormorant verslag lewer.
“Die situasie gaan voortduur tot die departement al die pype vervang het en daar word gesê daar is nie geld daarvoor nie,” het Louwrens gesê. Hoewel die departement Kormorant verseker het van onmiddellike aksie, het die riool Woensdagmiddag steeds gevloei.




Recent Comments