Editorial Opinion — 20 July 2012
Stilte voor die storm

deur Daleen van Manen

Daar is ‘n ernstige geskarrel deur die leierskap in die Madibeng munisipa-liteit die afgelope twee weke sedert die departement van plaaslike regering aangekondig het die raad is terug onder administrasie.
Niemand kan egter agterkom waaroor en waarheen skarrel hulle nie. Al wat ons weet is dat hulle Vrydagaand kop onderstebo uit die Pretoriase Hooggeregshof moes skarrel na die hof hul aansoek, om administrasie af te weer, met koste verwerp het.
Op die oomblik skarrel hulle agter geslote deure met sekuriteitswagte in die munisipale gebou se raadskamers rond en geen raadslid word eers toegelaat nie. Mens wonder watse planne word nou weer besweer. Niemand kan ook agterkom waar is die administrateur nie.
Is dit nie genoeg dat die hofsaak die belastingbetaler nou weer honderde duisende rande uit die sak gaan jaag nie. Ja, dis ons wat hiervoor gaan hoes, beslis nie die burgemeester, of die speaker, of die munisipale bestuurder nie… En dit weens hul arrogansie om te dink dat hulle die plaaslike regering kan boelie sodat hulle kan aanhou geld mors.
In sy verklaring met die aankondiging van die ingryping in die munisipaliteit het die LUR van die department van plaaslike regerings gesê die Madibeng munisipaliteit toon ‘n totale verontagsaming van wetgewing, in so ‘n mate dat die raad misluk het om sy taak te verrig.
Hy het aangevoer dat die munisipaliteit die afgelope vier jaar nadelige uitsprake oor sy finansiële state van die ouditeur-generaal ontvang het. En nog steeds mors die leierskap geld. Dit is asof hulle nie hoor, of dalk nie verstaan, wat die owerhede sê nie.
In die binnekringe gons dit oor die nasionale minister se besoek aan die munisipaliteit Vrydag. Daar is diegene wat spekuleer dat die leierskap dalk die minister se hulp inroep om oor die koppe van die provinsiale regering te gaan. Ons almal weet dit is ‘n politieke balspel dié, en dit is twee spanne wat veronderstel is om aan dieselfde kante te wees, wat teen mekaar speel.
Net so stil soos wat Madibeng se monde gesnoer is, is dié van die provinsiale regering. Hulle uiter geen woord, maar daar is tog ‘n sweempie van selfingenomendheid te bespeur. Hierdie is beslis die stilte voor die storm. En ja, die belastingbetaler moet hom seker maar regmaak vir ‘n stewige verhoging in dienstetariewe om vir die munisipale leiers se hofonkoste te betaal!

Related Articles

Share

About Author

Kormorant

(1) Reader Comment

  1. Nice Picture