Written by Kormorant | 2 September 2010
‘n Jong blou-apie het ternouernood ontkom toe sy verlede Woensdag in Scottstraat raakgery is.
Danie Rossouw, bekende sakeman van Hartbeespoort, sê dat die apie die pad wou oorsteek en voor ‘n voertuig ingehardloop het. Die motoris was erg geskok en hulle het aanvanklik gedink dat die kleintjie dood is.
Danie het voorgestel dat die motoris die apie na die Hartbeespoort Dierekliniek neem sodat hulle hom kon begrawe. Die apie was egter net bewusteloos van ‘n erge hou teen die kop en in die hospitaal opgeneem.
Volgens die span kundiges wat die apie onder hande geneem het, was hulle aanvanklik bang vir breinbeserings en het sy ook bietjie vog op haar longe gehad. Die apie, wat hulle intussen Evie gedoop het, het in die hospitaal oornag en was die aand op drup-behandeling.
Kormorant het Donderdag kort voor sy ontslaan is by die kliniek ingeloer en hoewel haar ogie nog toegeswel was het alles goed gelyk. Sy het ook die oggend reeds twee piesangs verorber.
Evie is na haar ontslag in Luella Mossom van Schoemansville se sorg geplaas. Luella is wyd as diereliefhebber bekend, wat haar veral ook oor die welstand van die apies in die omgewing ontferm.
Maandag was die kleintjie steeds in Luella se sorg. Sy is blykbaar deel van ‘n groep wat tussen die Hoërskool en die Mossom-woning in St Monicastraat beweeg.
Luella het gesê dat Evie nie sterk genoeg was om vrygelaat te word nie en dat sy erge harsingsskudding opgedoen het. Sy het ook ‘n toeval gekry en is swak aan haar linkerkant. Sy reageer wel goed op behandeling en kan al uit haar beseerde regter-ogie sien.
Luella het gesê dat sy hoop dat die kleintjie binne die volgende paar weke ten volle sal herstel en dat hulle haar graag weer met haar ma sou wou verenig. Indien dit nie moontlik sou wees nie sal Evie na die Bambalela-rehabilitasie sentrum in Bela Bela (Warmbad) gestuur word.
Danie het op sy beurt, soos die span van die Hartbeespoort Dierekliniek, gevra dat inwoners nie voerplekke in Scottstraat moet skep nie omdat die apies van die berg se kant kom en die besige Scottstraat probeer oorsteek om by dié kos uit te kom.
Ape is beskermde diere en moeilik om te beheer as hulle probleemgedrag openbaar.